Ek's opgelei om 'n gimnas te word vir twee jaar in Hunan, Sjina in die 1970's. In graad 1, wou die regering my na 'n skool vir atlete oorplaas -- alle kostes betaal. Maar my tier-ma het gesê: "Nee." My ouers wou hê ek moes 'n ingenieur soos hulle word. Hulle't die Kulturele Rewolusie oorleef en dus vas geglo aan één weg tot geluk: 'n veilige en goed-betaalde werk. Dis nie belangrik of ek daarvan hou nie. Maar my droom was om 'n Sjinese operasangeres te word. Hier speel ek my denkbeeldige klavier. 'n Operasangeres moet van jongs af akrobatiek begin leer, so ek't als probeer om operaskool toe te gaan. Ek't selfs aan die skoolhoof geskryf en aan die aanbieder van 'n radioprogram. Maar geen volwassenes het van die idee gehou nie. Geen volwassenes het geglo ek was ernstig nie. Net my vriende het my ondersteun, maar hulle was kinders, net so magteloos soos ek. Op 15 het ek geweet dat ek te oud is om opgelei te word. My droom sou nooit waar word nie. Ek was bevrees dat vir die res van my lewe 'n tweedeklas geluk die beste was waarop ek kon hoop. Maar dis so onregverdig. So was ek vasbeslote om nog 'n roeping te vind. Niemand om my te leer nie? Wel, gaaf. Dan keer ek my tot boeke. Ek't my honger vir ouerlike advies gestil met 'n boek deur 'n familie van skrywers en musikante. ["Correspondence in the Family of Fou Lei"] Ek't my rolmodel van 'n onafhanklike vrou gevind, al verlang Konfusiaanse tradisie gehoorsaamheid. ["Jane Eyre"] En ek't uit dié boek geleer om effektief te wees. ["Cheaper by the Dozen"] En ek wou oorsee gaan studeer nadat ek dié gelees het. ["Complete Works of Sanmao" (al. Echo Chan)] ["Lessons from History" Nan Huaijin] Ek't in 1995 Amerika toe gekom, so watter boeke het ek eerste hier gelees? Boeke verban in Sjina, natuurlik. "The Good Earth" is oor Sjinese landelike lewe. Dis net nie gerieflik vir propaganda nie. Ek snap dit. Die Bybel is interestant, maar aardig. (Gelag) Dis 'n onderwerp vir 'n ander dag. Maar die vyfde gebod was 'n openbaring: "Jy moet jou vader en jou moeder eer." "Eerbiedig," het ek gesê, "Dis so anders, en beter, as om te gehoorsaam." Dis toe my werktuig om uit Confucius se skuldgevoelstrik te klim en my verhouding met my ouers te hervat. Blootstelling aan 'n nuwe kultuur het ook my gewoonte begin om vergelykend te lees. Dis baie insigryk. Ek't byvoorbeeld hierdie kaart eers uit plek gevind omdat dít is waarmee Sjinese studente groot word. Ek't nooit besef dat Sjina nie die middelpunt van die wêreld hoef te wees nie. 'n Kaart dra waarlik iemand se sienswyse. Vergelykende nalees is niks nuut nie. Dis standaard in die akademiese wêreld. Daar's selfs navorsingsgebiede soos vergelykende godsdienswetenskap en vergelykende letterkunde. Vergelyking en kontras gee geleerdes 'n meer volledige begrip van 'n onderwerp. So, as vergelykende nalees werk vir navorsing, waarom nie ook vir alledaagse lewe nie? So't ek begin om boeke in pare te lees. Hulle kan oor mense wees -- ["Benjamin Franklin" Walter Isaacson] ["John Adams" David McCullough] -- betrokke in dieselfde gebeurtenis, of vriende met gemeenskaplike ervaringe. ["Personal History" Katharine Graham] ["The Snowball: Warren Buffett and the Business of Life" Alice Schroeder] Ek vergelyk ook dieselfde stories in verskillende genres -- (Gelag) [Holy BIble: King James Version] ["Lamb" Chrisopher Moore] -- of soortgelyke stories van verskillende kulture, soos Joseph Campbell gedoen het in sy wonderlike boek. ["The Power of Myth" Joseph Campbell] Byvoorbeeld, beide Christus en die Boeddha het drie versoekings weerstaan. Vir Christus was die versoekings ekonomies, polities en geestelik. Vir die Boeddha was alles psigies: wellus, vrees en sosiale plig -- interessant. As jy 'n vreemde taal ken, is dit ook pret om jou gunsteling boeke in twee tale te lees. ["The Way of Chuang Tzu" Thomas Merton] ["Tao: The Watercourse Way" Alan Watts] In plaas van verlore in vertaling, vind ek daar is baie om by te baat. Ek't deur vertaling besef dat "geluk" in Sjinees letterlik "vinnige plesier" beteken. Nou toe. "Bruid" beteken letterlik "nuwe ma." Ô-ô. (Gelag) Boeke het my 'n magiese poort gegee om met mense in verbinding te tree, uit die verlede en die hede. Ek sal nooit weer alleen of magteloos voel nie. Om 'n droom verbrysel te hê is niks in vergelyking met baie ander se lyding nie. Ek glo dat die verwerkliking nie die enigste doel van 'n droom is nie. Sy belangrikste doel is om ons in voeling te bring met waar drome vandaan kom, waar passie vandaan kom, waar geluk vandaan kom. Selfs 'n verpletterde droom kan dit vir jou doen. As gevolg van boeke is ek vandag hier, gelukkig, lewend met 'n doel en klaarheid, meeste van die tyd. So mag boeke altyd met julle wees. Dankie. (Applous) Dankie. (Applous) Dankie. (Applous)