Ek is ’n verteller. En ek wil julle graag ’n paar persoonlike stories vertel oor wat ek "die gevaar van die enkele storie" noem. Ek het op ’n universiteitskampus in oos-Nigerië grootgeword. My ma sê ek het op die ouderdom van twee begin lees, alhoewel ek dink vier dalk nader aan die waarheid is. So ek was ’n vroeë leser, en wat ek gelees het was Britse en Amerikaanse kinderboeke. Ek was ook ’n vroeë skrywer, en toe ek begin skryf het, op omtrent sewe jaar, stories in potlood met krytillustrasies, wat my arme ma verplig was om te lees, het ek presies die tipe stories wat ek gelees het, geskryf: Al my karakters was wit met blou oë, hulle't in die sneeu gespeel, hulle't appels geëet, en hulle't baie oor die weer gepraat, hoe lieflik dit was dat die son uitgekom het. (Gelag) Ondanks die feit dat ek in Nigerië gewoon het. Ek was toe nog nooit buite Nigerië nie. Ons het nie sneeu gehad nie, ons het mangoes geëet, en ons het nooit oor die weer gepraat nie, want dit was onnodig. My karakters het ook baie gemmerbier gedrink, want die karakters in die Britse boeke wat ek gelees het, het gemmerbier gedrink. Ongeag dat ek geen idee gehad het wat gemmerbier was nie. (Gelag) En vir baie jare daarna sou ek ’n desperate begeerte hê om gemmerbier te proe. Maar dis ’n ander storie. Wat hierdie wys, dink ek, is hoe ontvanklik en vatbaar ons is met ’n storie voor oë, veral as kinders. Omdat ek nét boeke gelees het waarin karakters anders was, was ek oortuig daarvan dat boeke vanselfsprekend vreemdelinge moes in hê en oor dinge moes gaan waarmee ek nie kon persoonlik identifiseer nie. Dinge het verander toe ek Afrikaboeke ontdek het. Daar was nie veel besikbaar nie, en hulle was nie so verkrygbaar soos die buitelandse boeke nie. Maar as gevolg van skrywers soos Chinua Achebe en Camara Laye het ek ’n sielsverskuiwing in my begrip van letterkunde beleef. Ek het besef dat mense soos ek, meisies met vel die kleur van sjokolade, wie se kroes hare nie kon poniesterte maak nie, ook in literatuur kon bestaan. Ek het oor dinge wat ek herken het begin skryf. Nou, ek was versot op daardie Amerikaanse en Britse boeke. Hulle het my verbeelding aangegryp, vir my nuwe wêrelde oopgemaak. Maar die gevolg was per abuis dat ek nie geweet het mense soos ek kon in literatuur bestaan nie. So wat die ontdekking van Afrikaskrywers vir my gedoen het was: Om my te red van 'n enkele storie van wat boeke is. Ek was uit ’n gewone, middelklas Nigeriese gesin. My pa was ’n professor. My ma was ’n administratiewe beampte. En, soos die norm was, het ons inwoon huishulpe gehad, wat gewoonlik van nabye dorpies af gekom het. So die jaar wat ek agt geword het, het ons ’n nuwe huisknaap gekry. Sy naam was Fide. Die enigste ding wat my ma ons van hom vertel het, was dat sy familie baie arm was. My ma het jamswortels en rys gestuur, en ons ou klere, na sy familie toe. En as ek nie my aandete klaar geëet het nie sou my ma sê: "Eet jou kos! Weet jy dan nie? Mense soos Fide se familie het niks nie." So ek was baie jammer vir Fide se familie. Toe een Saterdag gaan ons na sy dorpie op besoek, en sy ma wys vir ons ’n pragtig-gepatroonde mandjie van gekleurde raffia, wat sy broer gemaak het. Ek was verbaas. Dit het toe nog nooit by my opgekom dat iemand in sy familie sowaar iets kon maak nie. Al wat ek van hulle gehoor het was hoe arm hulle was, sodat dit vir my onmoontlik geword het om hulle as enigiets anders as arm te sien. Hulle armoede was my enkele storie van hulle. Ek het jare later hieroor gedink toe ek weg is uit Nigerië om universiteit toe te gaan in die Verenigde State. Ek was 19. My Amerikaanse kamermaat is deur my geskok. Sy't my gevra waar ek so goed Engels leer praat het, en was verward toe ek gesê het dat Engels toevallig genoeg die amptelike taal van Nigerië is. Sy't gevra of sy kon luister na wat sy my "tribal" musiek genoem het en was gevolglik baie teleurgesteld toe ek my kasset van Mariah Carey uitgehaal het. (Gelag) Sy't aangeneem dat ek nie weet hoe om ’n stoof te gebruik nie. Wat my getref het was: Sy het my bejammer selfs nog voor sy my gesien het. Haar verstekposisie teenoor my, as ’n Afrikaan, was ’n tipe neerbuigende, goed-bedoelde jammerhartigheid. My kamermaat het ’n enkele Afrikastorie gehad: ’n enkele storie van katastrofe. In hierdie enkele storie was daar geen moontlikheid dat Afrikane enigsins soos sy kon wees nie, geen moontlikheid van gevoelens meer kompleks as bejammering, geen moontlikheid van ’n verbinding as gelyke mense nie. Ek moet sê dat voor ek na die V.S.A. toe is, ek nie bewustelik geïdentifiseer het as ’n Afrikaan nie. Maar elke keer wat Afrika ter sprake was in die V.S.A., het almal na my gekyk. Ondanks dat ek niks geweet het oor plekke soos Namibië nie. Maar ek het op die ou end hierdie identeit aangeneem, en op baie maniere dink ek nou aan myself as Afrikaans. Alhoewel ek nog steeds geïrreteerd raak wanneer daar na Afrika verwys word as ’n land, die mees onlangse voorbeeld was op my andersins wonderlike vlug vanaf Lagos twee dae gelede, waarop daar ’n aankondiging was op die Virgin-vlug oor die liefdadigheidswerk in "Indië, Afrika en ander lande." (Gelag) So na ek ’n paar jaar in die V.S.A. as ’n Afrikaan spandeer het, het ek my kamermaat se reaksie teenoor my begin verstaan. As ek nie in Nigerië grootgeword het nie, en as al wat ek oor Afrika geweet het van algemene beelde was, sou ek ook dink dat Afrika ’n plek van pragtige landskappe, mooi diere, en onverstaanbare mense is, aan't oorlogvoer, sterwend van armoede of VIGS, nie in staat daartoe om vir hulleself te praat nie en wagted om verlossing deur ’n gawe, wit vreemdeling. Ek sou Afrikane op dieselfde manier sien as wat ek, as ’n kind, Fide se familie gesien het. Hierdie enkele storie van Afrika kom noodwendig, dink ek, uit Westerse literatuur. Nou, hier is ’n aanhaling van die skrywe van ’n Londonse handelaar met die naam John Locke, wat in 1561 na Wes-Afrika geseil het en ’n boeiende verslag van sy reis gehou het. Nadat hy na die swart Afrikane verwys het as "gediertes sonder huise," skryf hy: "Hulle is mense sonder koppe, met hul monde en oë in hulle borste." Nou, ek't nog elke keer wat ek dit gelees het gelag. En ’n mens moet die verbeelding van John Locke bewonder. Maar wat belangrik oor sy skryfwerk is, is dat dit die begin van ’n Afrikastorieverteltradisie in die Weste verteenwoordig: ’n Tradisie van sub-Sahara-Afrika as ’n plek van negatiewes, van andersheid, van donkerte, van mense wat, in die woorde van die wonderlike digter Rudyard Kipling, "halfduiwel, halfkind" is. En so het ek begin besef dat my Amerikaanse kamermaat haar hele lewe lank verskillende weergawes van hierdie enkele storie moes gesien en gehoor het, so ook ’n professor, wat op ’n keer vir my gesê het dat my roman nie "eg aan Afrika" is nie. Nou, ek was heeltemal bereid om aan te voer dat daar heelwat dinge verkeerd was met die roman, dat dit op vele punte misluk het, maar ek het nog nie heeltemal veronderstel dat dit die sogenaamde Afrika-egtheid paal nie gehaal het nie. Ek het inderwaarheid nie geweet wat eg aan Afrika was nie. Die professor het my meegedeel dat my karakters te veel soos hy was, ’n opgevoede en middelklas man. My karakters het motors bestuur. Hulle het nie vergaan van die honger nie. Gevolglik was hulle nie eg aan Afrika nie. Maar ek moet gou byvoeg dat ek ook net so skuldig is aan die enkele storie kwessie. Ek het ’n paar jaar gelede Meksiko besoek uit die V.S.A. Die politieke klimaat in die V.S.A. was op daardie stadium gespanne, en debatte oor immigrasie het geheers. En, soos dit baie in Amerika gebeur, het immigrasie sinoniem met Meksikane geword. Daar was eindelose stories oor Meksikane as mense wat die gesondheidstelsel kaal uittrek, oor die grens sluip, by die grens gearresteer word, daai soort van ding. Ek onthou hoe ek op my eerste dag in Guadalajara rondgeloop het, gekyk het hoe die mense werk toe gaan, by die markplein hulle tortillas oprol, aan't rook en lag. Ek onthou dat ek eers effens verbaas was. En toe was ek van skaamte oorkom. Ek het besef dat ek so verdiep was in die mediadekking oor Meksikane dat hulle een ding in my kop geword het, die ellendige immigrant. Ek het geval vir die enkele storie oor Meksikane en ek kon nie méér skaam kry nie. So dit is hoe om ’n enkele storie te skep, ’n volk te wys as een ding, slegs een ding, oor en oor, en dit is wat hulle dan word. Dit is onmoontlik om die enkele storie te bespreek sonder om mag aan te raak. Daar's ’n woord, ’n Igbo woord, waaroor ek dink elke keer wat ek oor die magstrukture van die wêreld dink, en dit is "nkali." Dis ’n selfstandige naamword wat losweg as "om groter as ’n ander te wees" vertaal kan word. Soos ons ekonomiese en politieke wêrelde, word stories ook bepaal deur die beginsel van nkali: Hoe hulle vertel word, wie hulle vertel, wanneer hulle vertel word, hoeveel stories vertel word, is alles regtig afhanklik van mag. Mag is nie net die vermoë om ’n ander se storie te vertel nie, maar om dit ook die beslissende storie van dié persoon te maak. Die Palestynse digter Mourid Barghoute skryf dat as jy ’n volk wil ontvreem, is die eenvoudigste manier om hulle storie te begin vertel met: "tweedens." Begin die storie met die pyle van die Amerikaanse inboorlinge, en nie met die aankoms van die Britte nie, en dan het jy ’n heeltemal ander storie. Begin die storie met die mislukking van die Afrikastaat, en nie met die koloniale skepping van die Afrikastaat nie, en dan het jy ’n heeltemal ander storie. Ek het onlangs by ’n universiteit gepraat waar ’n student vir my gesê het dat dit so jammer is dat Nigeriese mans fisiese mishandelaars soos die vaderfiguur in my roman is. Ek het vir hom gesê dat ek pas ’n roman met die naam American Psycho gelees het -- (Gelag) -- en dat dit so jammer is dat jong Amerikaners reeksmoordenaars is. (Gelag) (Applous) Nou, natuurlik het ek dit effens geïrriteerd gesê. (Gelag) Maar dit sou nooit by my opgekom het dat net omdat ek ’n roman gelees het waarin ’n karakter ’n reeksmoordenaar is hy op een of ander manier van alle Amerikaners verteenwoordigend is nie. Dis nie omdat ek ’n beter mens as daai student is nie, maar eerder as gevolg van Amerika se kulturele en ekonomiese mag, dat ek baie stories oor Amerika gehad het. Ek het al Tyler en Updike en Steinbeck en Gaitskill gelees. Ek het nie ’n enkele storie van Amerika gehad nie. Toe ek ’n paar jaar gelede geleer het dat daar van skrywers verwag word om ongelukkige kinderjare te gehad het om suksesvol te wees, het ek begin dink oor hoe ek aaklige goed wat my ouers aan by gedoen het kon opmaak. (Gelag) Maar ek het om die waarheid te sê gelukkige kinderjare gehad, vol lag en liefde, in ’n baie hegte gesin. Maar ek het ook oupas wat in vlugtelingkampe dood is gehad. My nefie Polle is dood omdat hy nie voldoende gesondheidsorg kon kry nie. Een van my beste maats, Okoloma, is dood in ’n vliegtuigongeluk omdat ons brandweerwaens nie water gehad het nie. Ek het onder verdrukkende militêre regerings grootgeword wat opvoeding van waarde beroof het, sodat my ouers soms nie hulle salarisse betaal is nie. En so, as ’n kind, het ek gesien hoe konfyt van die ontbyttafel af verdwyn, toe margarien, toe het brood te duur geword, toe is melk op rantsoen gesit. En meeste van alles, het ’n soort genormaliseerde politieke vrees ons lewens binnegedring. Al hierdie stories maak my wie ek is. Maar om op slegs hierdie negatiewe stories aan te dring is om my ervaring af te plat en baie van die stories wat my gevorm het oor die hoof te sien. Die enkele storie skep stereotipes, en die probleem met stereotipes is nie dat hulle onwaar is nie, maar dat hulle onvolledig is. Hulle maak een storie die enigste storie. Afrika is natuurlik ’n vasteland vol katastrofes: Daar is grotes, soos die skokkende verkragtings in Kongo en ontmoedigendes, soos die feit dat 5000 mense vir een vakante pos in Nigerië aansoek doen. Maar daar is ander stories wat nie gaan oor katastrofes nie, en dis baie belangrik, net so belangrik, om oor hulle te praat. Ek't nog altyd gedink dis onmoontlik om ordentlik aan ’n plek of persoon mee te doen sonder om in al die stories van daardie plek of persoon te deel. Die gevolg van die enkele storie is dat dit mense van waardigheid beroof. Dit maak ons erkenning van ons gelyke menslikheid moeilik. Dit beklemtoon ons verskille eerder as ons ooreenkomste. So wat as ek voor my Meksikaanse toer die immigrasie debat van albei kante gevolg het, die Amerikaanse en die Meksikaanse? Wat as my ma vir ons gesê het dat Fide se familie arm én hardwerkend is? Wat as ons ’n Afrika-televisienetwerk gehad het wat uiteenlopende Afrikastories regoor die wêreld uitsaai? Wat die Nigeriese skrywer Chinua Achebe "’n balans van stories" noem. Wat as my kamermaat kon weet van my Nigeriese uitgewer, Mukta Bakaray, ’n merkwaardige man wat sy werk by ’n bank gelos het om sy droom te volg en ’n uitgewery te begin? Nou, die staande opvatting was dat Nigeriërs nie literatuur lees nie. Hy't verskil. Hy't gedink dat mense wat kon lees, sou lees, as jy literatuur vir hulle bekostig- en beskikbaar gemaak het. Kort daarna het hy my eerste roman uitgegee, ek het na ’n TV-stasie in Lagos gegaan vir ’n onderhoud, en ’n vrou wat as ’n bode daar gewerk het, het na my toe gekom en gesê: "Ek het baie van jou roman gehou. Ek het nie van die einde gehou nie. Jy moet nou ’n vervolgstuk skryf, en wat moet gebeur is ..." (Gelag) En sy't toe vir my vertel wat om in die vervolgstuk te skryf. Ek was nie net bekoor nie, ek was ook diep geroer. Hier was ’n vrou, een van baie gewone Nigeriërs, wat nie veronderstel was om lesers te wees nie. Sy het nie net die boek gelees nie, sy het dit ook aangeneem en het geregverdig gevoel in haar instruksies vir die vervolgstuk. Nou, wat as my kamermaat kon weet van my vriendin Fumi Onda, ’n vreeslose vrou wat ’n TV-program in Lagos aanbied, en vasberade is om die stories wat ons verkies om te vergeet, te vertel? Wat as my kamermaat kon weet van die hartoperasie wat verlede week in ’n hospitaal in Lagos uitgevoer is? Wat as my kamermaat kon weet van hedendaagse Nigeriese musiek, talentvolle mense wat sing in Engels en Pidgin, en Igbo en Joroeba en Ijo, terwyl hulle invloede van Jay-Z tot Fela tot Bob Marley en hulle oupas meng. Wat as my kamermaat kon weet van die vroulike prokureur wat onlangs in Nigerië hof toe is om ’n belaglike wet te betwis wat vereis dat vroue hulle mans se toestemming kry voor hulle hul paspoorte hernu? Was as my kamermaat kon weet van Nollywood, vol innoverende mense wat films maak ten spyte van groot tegniese uitdagings, films só gewild dat hulle rêrig die beste voorbeeld van Nigeriëriers wat verbruik wat hulle self skep, is? Wat as my kamermaat kon weet van my ambisieuse haarvlegter, wat pas haar eie besigheid vir die verkoop van haarverlengings begin het? Of van die miljoene Nigeriërs wat besighede begin wat soms misluk, maar wat aanhou om hulle ambisie te kweek? Elke keer wat ek tuis is word ek met die gewone bronne van irritasie vir meeste Nigeriërs gekonfronteer: ons mislukte infrastruktuur, ons mislukte regering, maar ook die ongelooflike taaiheid van mense wat floreer ten spyte van die regering, eerder as gevolg daarvan. Ek bied elke somer skryfwerkswinkels in Lagos aan, en dis indrukwekkend om te sien hoeveel mense aansoek doen, hoeveel mense gretig is om te skryf, om stories te vertel. Ek en my Nigeriese uitgewer het onlangs die Farafina Trust -- sonder winsbejag -- begin en ons het groot drome van biblioteke bou en bestaande biblioteke opknap en boeke verskaf aan staatskole wat niks in hulle biblioteke het nie, en ook van baie, baie werkswinkels organiseer, in lees en skryf, vir al die mense wat gretig is om ons baie stories te vertel. Stories maak saak. Baie stories maak saak. Stories is al gebruik om te ontvreem en te belaster, maar stories kan ook gebruik word om te bemagtig en te vermenslik. Stories kan ’n volk se waardigheid breek, maar stories kan ook hulle gebreekte waardigheid heelmaak. Die Amerikaanse skrywer Alice Walker het geskryf van haar suiderlingfamilielede wat na die Noorde getrek het. Sy't hulle in ’n boek oor die suiderlinglewe wat hulle agtergelaat het bekendgestel: "Hulle't rondgesit, die boek self gelees, geluister na hoe ek die boek lees, en ’n paradys van soorte is herwin." Ek wil graag met hierdie gedagte afsluit: Dat wanneer ons die enkele storie verwerp, wanneer ons besef dat daar nooit ’n enkele storie oor enige plek is nie, herwin ons ’n soort paradys. Dankie. (Applous)