Van julle ken waarskynlik die storie van die twee verkoopsmanne wat in die 1900's Afrika besoek het. Hulle's gestuur om te kyk of daar geleentheid is om skoene te verkoop. Hulle stuur toe telegramme terug na Manchester toe. Die een skryf: "Situasie hopeloos. Stop. Hulle dra nie skoene nie." Die ander een skryf: "Uitstekende geleentheid. Hulle't nog nie skoene hier nie." (Gelag) Daar's ’n soortgelyke situasie in die wêreld van klassieke musiek, want party mense dink dat klassieke musiek besig is om uit te sterf. En dan is daar van ons wat dink dis nog net die begin van veel groter dinge. Eerder as om statistiek en tendense aan te haal en julle te vertel van al die orkeste wat ontbind, en die platemaatskappye wat sluit, het ek gedink ons kan vanaand ’n eksperiment doen. Dis nie regtig ’n eksperiment nie, want ek weet wat die uitkoms is. (Gelag) Maar dis iets soos ’n eksperiment. Nou, voor ons -- (Gelag) -- voor ons begin, moet ek twee dinge doen. Die een is dat ek julle wil herinner hoe 'n sewejarige kind klink wanneer hy klavier speel. Miskien het julle so ’n kind by die huis. Hy klink omtrent so. (Musiek) (Musiek eindig) Ek sien sommige van julle herken hierdie kind. As hy ’n jaar lank oefen en les neem, is hy nou agt en dan klink hy so. (Musiek) Dan oefen hy nog ’n jaar en neem les -- nou's hy nege. (Musiek) Dan oefen hy nog ’n jaar en neem les -- nou's hy tien. (Musiek) Op daardie stadium gooi hulle gewoonlik tou op. (Gelag) (Applous) Maar as jy nog een jaar gewag het, sou jy dit gehoor het: (Musiek) Wat gebeur het, is nie wat julle dalk dink nie, dat hy skielik passievol en betrokke geraak het, ’n nuwe onderwyser gekry het, puberteit bereik het, of wat ook al. Wat in werklikheid gebeur het, is dat die impetus verlaag is. Julle sien, die eerste keer het hy met ’n impetus op elke noot gespeel. (Musiek) En die tweede, met die impetus op elke tweede noot. (Musiek) Julle kan dit sien deur na my kop te kyk. (Gelag) Die negejarige plaas die impetus op elke vierde noot. (Musiek) En die tienjarige op elke agt note. (Musiek) En die 11-jarige, een impetus op die hele frase. (Musiek) Ek weet nie hoe ons hier beland het nie. (Gelag) Ek't nie gesê ek gaan my skouer oor beweeg, my lyf beweeg nie. Nee, die musiek het my omgestoot, dis hoekom ek dit een-boud-spel noem. (Musiek) Dit kan ook die ander boud wees. (Musiek) ’n Man het een keer na ’n aanbieding gekyk wat ek voorgedra het toe ek met ’n jong pianis gewerk het. Hy was die president van ’n maatskappy in Ohio. Ek't met die jong pianis gewerk en gesê: "Die moeilikheid met jou is, jy's ’n twee-boud-speler. Jy moet ’n een-boud-speler wees." Toe verskuif ek sy lyf so terwyl hy speel. En skielik het die musiek lewe gekry -- opgestyg. Die gehoor het na hul asems gesnak toe hulle die verskil hoor. Toe kry ek ’n brief van dié man. Hy skryf: "Ek was so geroer. Ek't teruggegaan en my hele firma omskep in ’n een-boud-maatskappy." (Gelag) Die ander ding wat ek wou doen, is om julle oor julleself te vertel. Daar is 1600 mense hier. Ek skat dat 45 van julle waarskynlik ’n absolute passie vir klassieke musiek het. Julle is mal oor klassieke musiek. Jul radio's is altyd op klassiek ingestel. Julle het CD's in julle motors en julle woon simfoniekonserte by. En julle kinders speel instrumente. Julle kan nie jul lewens indink sonder klassieke musiek nie. Dis die eerste groep; ’n redelike klein een. Dan's daar ’n ander groter groep. Dis mense wat niks teen klassieke musiek het nie. (Gelag) Jy kom tuis na ’n lang dag en jy kry ’n glasie wyn en gaan sit gemaklik. ’n Bietjie Vivaldi in die agtergrond doen geen skade nie. Dis die tweede groep. Nou die derde groep. Dis mense wat nooit klassieke musiek luister nie. Dis eenvoudig nie deel van jou lewe nie. Jy tel dit dalk nes sekondêre rook by die lughawe op, maar -- (Gelag) -- en miskien ’n stukkie marsmusiek uit Aïda wanneer jy die saal instap. Maar andersins nooit nie. Dis waarskynlik die grootste groep. En dan is daar ’n baie klein groepie. Dis mense wat dink dat hulle toondoof is. ’n Verbasende aantal mense dink hulle is. Ek hoor dikwels: "My man is toondoof." (Gelag) Die waarheid: jy kan nie toondoof wees nie. Niemand is nie. As jy toondoof was, sou jy nie die ratte kon verwissel in jou motor met ’n handrat nie. Jy sou nie die verskil kon hoor tussen iemand van Texas en iemand van Rome nie. En die telefoon. Die telefoon. As jou ma op die elendige telefoon bel en sê: "Hallo," dan weet jy wie dit is én in watter bui sy is. Jy het ’n wonderlike oor. Almal het 'n wonderlike oor. Niemand is dus toondoof nie. Maar ek sê julle wat. Dit help nie ek gaan voort met die ding, met so ’n groot gaping tussen dié wat verstaan, en wat passievol en lief vir klassieke musiek is, en diegene wat glad geen aanklank daarmee het nie. Die toondoof mense is nie meer hier nie. Maar selfs tussen daai drie kategorieë is die gaping te groot. Ek gaan dus nie voortgaan totdat elkeen in hierdie vertrek, op die onderste vloer en in Aspen, en almal wat hierna kyk, geleer het om klassieke musiek lief te hê en te verstaan nie. So dis wat ons gaan doen. Julle sien dat ek nie die geringste twyfel het dat dit gaan werk as julle na my gesig kyk nie, reg? Dis een van die eienskappe van ’n leier: hy het geen twyfel aan die mense wat hy lei se vermoë om dit te bereik waaroor hy droom nie. Dink net, as Martin Luther King gesê het: "Ek het ’n droom. Maar ek's nie seker of hulle kans sien nie." (Gelag) Goed. Ek gaan ’n stuk van Chopin gebruik. Dis ’n pragtige prelude van Chopin. Van julle sal dit ken. (Musiek) Weet julle wat dink ek het waarskynlik nou gebeur? Toe ek begin het, het julle gedink: "Hoe pragtig klink dit." (Musiek) "Ek dink nie ons moet vir die volgende somervakansie na dieselfde plek toe gaan nie." (Gelag) Dis snaaks, nè? Dis snaaks hoe sulke dinge in ons gedagtes insluip. (Applous) As die stuk lank is en jy't ’n lang dag gehad, mag jy selfs insluimer. Dan pomp jou metgesel jou in die ribbes en sê: "Word wakker! Dis kultuur!" En dan voel jy nog slegter. (Gelag) Maar het dit al ooit by jou opgekom dat die rede waarom jy vaak word met klassieke musiek nie jou skuld is nie, maar ons s'n? Het iemand gedink, terwyl ek gespeel het: "Waarom gebruik hy soveel klemtone?" As ek dit met my kop gedoen het, sou julle beslis so gedink het. (Musiek) En vir die res van julle lewens sal julle altyd bewus wees van die klemtone wanneer julle na klassieke musiek luister. Kom ons kyk wat regtig hier aangaan. Ons het ’n B. Dis ’n B. Die volgende noot is ’n C. En die C se taak is om die B treurig te maak. En dit werk, of hoe? (Gelag) Komponiste weet dit. As hulle treurige musiek wil hê, speel hulle net dié twee note. (Musiek) Maar basies is dit net ’n B, met vier treuriges. (Gelag) Nou gaan dit af na A. Nou na G. En dan na F. So ons het B, A, G, F. En as ons B, A, G, F het, wat verwag ons volgende? (Musiek) O, dit was seker toeval. Kom ons probeer weer. (Musiek) (Gehoor sing) O, die TED-koor. (Gelag) En julle let op dat niemand toondoof is nie, ne? Niemand nie. Julle weet, elke dorpie in Bangladesh en elke gehuggie in Sjina -- almal weet: da, da, da, da -- da. Almal weet om ’n E daar te verwag. Chopin wou nie daar by die E uitgekom het nie, want wat sou gebeur het? Dit sou verby wees, soos Hamlet, nè? Eerste bedryf, derde toneel: hy vind uit dat sy oom sy pa vermoor het. Hy hou aan om sy oom te nader en hom amper dood te maak. Dan tree hy terug, nader hom weer en maak hom amper dood. En die kritici daar in die agterste ry, hulle moet ’n opinie hê, so hulle sê: "Hamlet sloer." Of hulle sê: "Hamlet het ’n Oedipus-kompleks." Nee, anders sou die opvoering verby gewees het, simpel! (Gelag) Dis waarom Shakespeare al daai goed in het -- Ophelia wat mal word, die storie in die storie, en Yorick se kopbeen, en die grafgrawers. Dis om uit te stel -- tot die vyfde bedryf, dan kan hy hom doodmaak. Dieselfde geld vir Chopin. Hy wil net-net E bereik, en hy sê: "Oeps, ek moet liewer terug gaan en dit weer doen." Dan doen hy dit weer. Nou raak hy opgewonde. (Musiek) Dis opgewondenheid, moenie bekommer nie. Nou kom hy by F-kruis uit en uiteindelik gaan hy af tot by E, maar dis die verkeerde sleutel -- want die sleutel waarna hy soek is dié een en in plaas daarvan doen hy ... Nou, ons noem dit misleidende intonasie, want dit mislei ons. Ek sê altyd vir my studente: "By misleidende intonasie, lig julle wenkbroue, dan weet almal." (Gelag) (Applous) Reg. Hy kom by E uit, maar dis die verkeerde sleutel. Hy probeer E weer. Daai sleutel werk nie. Nou probeer hy weer die E. Daai sleutel werk nie. Nou probeer hy weer E, en dit werk nie. En dan, uiteindelik ... Daar is ’n man in die voorste ry wat so "Hmf" sug. (Gelag) Dis dieselfde ding wat hy doen wanneer hy na ’n lang dag by die huis kom, sy motor afskakel en sê: "A, ek is tuis." Want ons weet almal wanneer ons tuis voel. Dis dus 'n stuk wat van weggaan af weer tuiskom. Ek gaan dit regdeur speel en julle gaan volg. B, C, B, C, B, C, B -- af na A, af na G, af na F. Amper tot by E, maar dan sou die opvoering verby wees. Terug op B toe, raak baie opgewonde. Na F-kruis toe. E toe. Dis die verkeerde akkoord. En uiteindelik na E, en dis tuis. En wat julle gaan sien, is een-boud-spel. (Gelag) Want vir my, om die B en die E te verbind, moet ek ophou dink aan elke enkele noot op hierdie roete en begin dink aan die lang, lang lyn van B tot E. Julle weet, ons was pas in Suid-Afrika, en jy kan nie Suid-Afrika toe gaan sonder om aan Mandela wat 27 jaar lank in die tronk was te dink nie. Waaraan het hy gedink? Middagete? Nee, hy't gedink aan die visie vir Suid-Afrika en 'n visie vir die mensdom. Dit gaan oor visie. Dit gaan oor die lang lyn. Soos die voël wat oor die veld vlieg en geen aandag gee aan die heinings daar onder nie, ne? Nou gaan julle die lyn al die pad volg, van B tot E. Ek't een finale versoek voor ek die stuk regdeur speel. Dink aan iemand wat jy baie liefhet, wat nie meer daar is nie? ’n Geliefde ouma, ’n beminde -- iemand in jou lewe wat jy met jou hele hart liefhet, maar die persoon is nie meer by jou nie. Dink aan daai persoon en volg terselftertyd die lyn al die pad van B na E, en jy sal alles hoor wat Chopin te sê gehad het. (Musiek) (Applous) Julle wonder dalk nou -- (Applous) Julle wonder dalk hoekom ek saam klap. Ek't dit by ’n skool in Boston gedoen met omtrent 70 graad sewes -- 12-jariges. Ek't presies dieselfde met hulle gedoen, en die hele ding verduidelik. En aan die einde het hulle soos besetenes geklap. Ek't geklap. Hulle't geklap. Tot ek gevra het: "Waarom klap ek?" En een van die kleintjies sê: "Want ons het geluister." (Gelag) Dink daaraan. 1600 mense, besige mense, wat by allerhande dinge betrokke is. aan't luister, verstaan en geraak word deur ’n stuk van Chopin. Dit is merkwaardig. Is ek seker dat elkeen dit gevolg en verstaan het en daardeur geraak is? Natuurlik nie. Maar ek vertel julle wat met my in Ierland gebeur het, tydens hulle moeilikhede, 10 jaar gelede. Ek't met 'n klompie Katolieke en Protestantse kinders gewerk oor konflikoplossing. Toe doen ek dit met hulle -- ’n gewaagde ding, want hulle was straatkinders. En een van hulle kom die volgende oggend na my toe en hy sê: "Jy weet, ek het nog nooit na klassieke musiek geluister nie, maar toe jy daai 'shopping' stuk speel ..." (Gelag) Hy sê: "My broer is laas jaar geskiet en ek't nie oor hom gehuil nie. Maar gisteraand toe jy daai stuk speel, was hy die een waaraan ek gedink het. En ek't gevoel hoe trane oor my gesig stroom. En dit het regtig goed gevoel om oor my broer te huil." Op daardie oomblik het ek besluit dat klassieke musiek aan almal behoort. Almal. Nou, hoe sou julle loop -- my professie, die musiekprofessie sien dit nie so nie. Hulle sê 3% van die bevolking hou van klassieke musiek. As ons dit maar net kon opstoot na 4% sou ons probleme opgelos wees. (Gelag) Hoe sou jy loop? Hoe sou jy praat? Hoe sou jy wees as jy gedink het 3% hou van klassieke musiek? As ons dit maar net kon opstoot na 4%. Hoe sou jy loop of praat? Hoe sou jy wees as jy gedink het almal is lief is vir klassieke musiek -- hulle't dit nog net nie ontdek nie. Sien, dis totaal verskillende wêrelde. Ek't ’n wonderlike ervaring gehad -- ek was 45 jaar oud. Ek dirigeer toe al 20 jaar lank, en skielik het ek iets besef. Die dirigent van ’n orkes maak nie ’n geluid nie. My foto verskyn voor op die CD -- (Gelag) Maar die dirigent maak nie ’n geluid nie. Vir hom om mag te hê, is hy afhanklik van sy vermoë om ander mense te bemagtig. En dit het alles vir my verander. Dit was ’n totale lewensomkeer. Mense in my orkes het gesê: "Ben, wat het gebeur?." Dis wat gebeur het: Ek't besef dat my taak is om moontlikheid in andere te wek. Natuurlik wou ek weet of ek dit doen. En weet julle hoe mens dit bepaal? Jy kyk na hulle oë. As hulle oë blink, dan weet jy dat jy daarin slaag. Jy kan ’n dorpie van lig voorsien met hierdie man se oë. (Gelag) Reg. As die oë dus blink, weet jy dat jy slaag. As die oë nie blink nie, moet jy ’n vraag vra. En die vraag is: Wie is ek besig om te wees, dat my spelers se oë nie blink nie? Ons kan dit met ons kinders ook doen. Wie is ek besig om te wees, dat my kinders se oë nie blink nie? Dis 'n totaal ander wêreld. Nou, ons moet amper hierdie magiese, op-die-berg week beëindig, en ons gaan terug na die wêreld. En ek sê dis gepas dat ons die vraag vra: Wie is ons besig om te wees wanneer ons teruggaan na die wêreld toe? En weet julle, ek't ’n definisie van sukses. Dis baie eenvoudig. Dit gaan nie oor rykdom, roem of mag nie. Dit gaan oor hoeveel blink oë ek om my het. En nou het ek een laaste gedagte, en dis dat dit regtig ’n verskil maak wat ons sê -- die woorde wat uit ons mond kom. Ek't dit geleer van ’n vrou wat Auschwitz oorleef het, een van die min oorlewendes. Sy is Auschwitz toe op 15. En ... haar broer was agt, en hulle ouers was verlore. En sy't vir my gesê: "Ons was in die trein op pad Auschwitz toe en ek't afgekyk en gesien dat my boetie se skoene weg was. Toe sê ek: "Hoekom is jy so simpel, kan jy nie jou goed bymekaar hou nie, om hemelsnaam!" Soos ’n ouer suster dalk met haar jonger broer sou praat. Ongelukkig was dit die laaste ding wat sy ooit vir hom gesê het, want sy't hom nooit weer gesien nie. Hy't nie oorleef nie. Toe sy uit Auschwitz kom, het sy 'n eed geneem. Sy't my vertel. Sy't gesê: "Ek't uit Auschwitz die lewe ingeloop en ek't myself iets belowe. Die belofte was: "Ek sal nooit iets sê wat nie aanvaarbaar as my laaste woorde is nie." Kan ons dit doen? Nee. Ons sal misluk en ander ook. Maar dis ’n ideaal om na te streef. Dankie. (Applous) Blink oë! Blink oë! (Applous) Dankie, dankie. (Applous)