Van julle ken waarskynlik die storie van die twee verkoopsmanne wat in die 1900's Afrika besoek het. Hulle is gestuur om uit te vind of daar enige geleentheid is om skoene te verkoop. Hulle stuur toe telegramme terug na Manchester toe. Die een skryf: "Situasie hopeloos. Stop. Hulle dra nie skoene nie." Die ander een skryf: "Uitstekende geleentheid. Hulle't nog nie skoene hier nie." (Gelag) Daar is ’n soortgelyke situasie in die wêreld van klassieke musiek, want party mense dink dat klassieke musiek besig is om uit te sterf. En dan is daar van ons wat dink dis nog net die begin van veel groter dinge. Eerder as om statistiek en tendense aan te haal en julle te vertel van al die orkeste wat ophou bestaan, en die musiekmaatskappye wat besig is om te sluit, het ek gedink ons kan vanaand ’n eksperiment doen. Dis nie regtig ’n eksperiment nie, want ek weet wat die uitkoms is. (Gelag) Maar dis iets soos ’n eksperiment. Nou, voor ons begin -- (Gelag) -- voor ons begin, moet ek twee dinge doen. Die een is dat ek julle wil herinner hoe 'n sewejarige kind klink wanneer hy klavier speel. Miskien het julle so ’n kind by die huis. Hy klink omtrent so. (Musiek) (Musiek eindig) Ek sien sommige van julle herken hierdie kind. As hy ’n jaar lank oefen en les neem, is hy nou agt en dan klink hy so. (Musiek) (Musiek eindig) Dan oefen hy nog ’n jaar en neem les -- nou's hy nege. (Musiek) (Musiek eindig) Dan oefen hy nog ’n jaar en neem les -- nou's hy tien. (Musiek) (Musiek eindig) Op daardie stadium gooi hulle gewoonlik tou op. (Gelag) (Applous) Maar as jy nog een jaar gewag het, sou jy dit gehoor het: (Musiek) (Musiek eindig) Wat gebeur het, is nie wat julle dalk dink nie, dat hy skielik passievol en betrokke geraak het, ’n nuwe onderwyser gekry het, puberteit bereik het, of wat ook al. Wat in werklikheid gebeur het, is dat die impetus verlaag is. Julle sien, die eerste keer het hy met ’n impetus op elke noot gespeel. (Musiek) En die tweede, met die impetus op elke tweede noot. (Musiek) Julle kan dit sien deur na my kop te kyk. (Gelag) Die negejarige plaas die impetus op elke vierde noot. (Musiek) En die tienjarige op elke agt note. (Musiek) En die 11-jarige, een impetus op die hele frase. (Musiek) Ek weet nie hoe ons hier beland het nie. (Gelag) Ek't nie gesê ek gaan my skouer oor beweeg, my lyf beweeg nie. Nee, die musiek het my omgestoot, dis hoekom ek dit "een-boud" spel noem. (Musiek) Dit kan ook die ander boud wees. (Musiek) Julle weet, ’n man het een keer na ’n aanbieding gekyk wat ek voorgedra het toe ek met ’n jong pianis gewerk het. Hy was die president van 'n maatskappy in Ohio. En ek't met die jong pianis gewerk en gesê: "Die moeilikheid met jou is dat jy ’n twee-boud speler is. Jy behoort ’n een-boud speler te wees." Toe verskuif ek sy lyf so terwyl hy speel. En skielik het die musiek lewe gekry. Dit het opgestyg. Die gehoor het na hulle asems gesnak toe hulle die verskil hoor. En toe kry ek ’n brief van hierdie man. Hy skryf: "Ek was so beïndruk. Ek het teruggegaan en my hele firma omskep in 'n een-boud maatskappy." (Gelag) Die ander ding wat ek wou doen, is om julle oor julleself te vertel. Ek verstaan daar is 1600 mense hier. Ek skat dat 45 van julle waarskynlik ’n absolute passie vir klassieke musiek het. Julle is mal oor klassieke musiek. Julle radio's is altyd op klassiek ingestel. Julle het CD's in julle motors en julle woon simfoniekonserte by. En julle kinders speel instrumente. Julle kan nie jul lewens indink sonder klassieke musiek nie. Dit is die eerste groep; ’n redelike klein groepie. Dan is daar ’n ander groep, ’n groter groep. Dis mense wat nie omgee as klassieke musiek speel nie. (Gelag) Jy weet, ’n mens kom tuis na ’n lang dag en jy kry ’n glasie wyn en gaan sit gemaklik. ’n Bietjie Vivaldi in die agtergrond doen geen skade nie. Dis die tweede groep. Nou vir die derde groep. Dit is mense wat nooit na klassieke musiek luister nie. Dis eenvoudig nie deel van jou lewe nie. Jy mag dit dalk nes sekondêre rook by die lughawe optel, maar -- (Gelag) -- en miskien ’n stukkie marsmusiek uit Aïda wanneer jy die saal instap. Maar andersins hoor jy dit nooit nie. Dis waarskynlik die grootste groep van almal. En dan is daar ’n baie klein groepie. Dis mense wat dink dat hulle toondoof is. ’n Verbasende aantal mense dink hulle is toondoof. Inderwaarheid hoor ek dikwels: "My man is toondoof." (Gelag) Die waarheid is dat jy nie toondoof kan wees nie. Niemand is toondoof nie. As jy toondoof was, sou jy nie die ratte kon verwissel in jou motor met ’n handrat nie. Jy sou nie die verskil kon agterkom tussen iemand van Texas en iemand van Rome nie. En die telefoon. Die telefoon. As jou ma op die elendige telefoon bel en sê: "Hallo," dan weet jy nie net wie dit is nie, jy weet ook in watter bui sy is. Jy het ’n wonderlike oor. Almal het 'n wonderlike oor. Niemand is dus toondoof nie. Maar ek sê julle wat. Dit help nie ek gaan voort met die ding, met so ’n groot gaping tussen dié wat verstaan, en wat passievol en lief vir klassieke musiek is, en diegene wat glad geen aanklank daarmee het nie. Die toondoof mense is nie meer hier nie. Maar selfs tussen daai twee kategorieë is die gaping te groot. Ek gaan dus nie voortgaan totdat elkeen in hierdie vertrek, op die onderste vloer en in Aspen, en almal wat hierna kyk, geleer het om klassieke musiek lief te hê en te verstaan nie. En dis wat ons gaan doen. Julle sien dat ek nie die geringste twyfel het dat dit gaan werk as julle na my gesig kyk nie, reg? Dis een van die eienskappe van ’n leier: hy het geen twyfel aan die mense wat hy lei se vermoë om dit te bereik waaroor hy droom nie. Dink net, as Martin Luther King gesê het: "Ek het ’n droom. Maar ek's nie seker of hulle kans sien nie." (Gelag) Goed. Ek gaan ’n stuk van Chopin gebruik. Dis ’n pragtige prelude van Chopin. Van julle sal dit ken. (Musiek) Weet julle wat dink ek het waarskynlik in hierdie kamer gebeur? Toe ek begin het, het julle gedink: "Hoe pragtig klink dit." (Musiek) "Ek dink nie ons moet volgende jaar vir die somervakansie na dieselfde plek toe gaan nie." (Gelag) Dis snaaks, nie waar nie? Dis snaaks hoe sulke dinge in ons gedagtes insluip. En natuurlik -- (Applous) Natuurlik, as die stuk lank is en jy het ’n lang dag gehad, mag jy selfs insluimer. Dan pomp jou metgesel jou in die ribbes en sê: "Word wakker! Dis kultuur!" En dan voel jy nog slegter. (Gelag) Maar het dit al ooit by jou opgekom dat die rede waarom jy vaak word met klassieke musiek nie jou skuld is nie, maar ons s'n? Het enigiemand gedink, terwyl ek gespeel het: "Waarom gebruik hy soveel klemtone?" As ek dit met my kop gedoen het, sou julle beslis so gedink het. (Musiek) (Musiek eindig) En vir die res van julle lewens sal julle altyd bewus wees van die klemtone wanneer julle na klassieke musiek luister. Kom ons kyk dus wat regtig hier aangaan. Ons het ’n B. Dis ’n B. Die volgende noot is ’n C. En die C se taak is om die B treurig te maak. En dit werk, of hoe? (Gelag) Komponiste weet dit. As hulle treurige musiek wil hê, speel hulle net hierdie twee note. (Musiek) Maar basies is dit net ’n B, met vier treuriges. (Gelag) Nou gaan dit af na A. Nou na G. En dan na F. So ons het B, A, G, F. En as ons B, A, G, F het, wat verwag ons volgende? (Musiek) O, dit was seker toeval. Kom ons probeer weer. (Musiek) O, die TED-koor (Gelag) En julle let op dat niemand toondoof is nie, ne? Niemand nie. Julle weet, elke dorpie in Bangladesh en elke gehuggie in Sjina -- almal weet: da, da, da, da -- da. Almal weet om ’n E daar te verwag. Chopin wou nie daar by die E uitgekom het nie, want wat sou gebeur het? Dit sou verby wees, soos Hamlet. Onthou julle? Eerste bedryf, derde toneel: hy vind uit dat sy oom sy pa doodgemaak het. Julle onthou hy hou aan om sy oom te nader en hom amper dood te maak. Dan draai hy om en hy nader hom weer en maak hom amper dood. En die kritici daar in die agterste ry, hulle moet ’n opinie hê, dus sê hulle: "Hamlet sloer." Of hulle sê: "Hamlet het ’n Oedipus-kompleks." Nee, anders sou die opvoering verby gewees het. Dis simpel. (Gelag) Dis waarom Shakespeare al daai goed in Hamlet gesit het -- Ophelia wat van haar kop af raak, die storie binne die storie, en Yorick se kopbeen, en die grafgrawers. Dis in orde om uit te stel -- tot die vyfde bedryf, dan kan hy hom doodmaak. Dieselfde geld vir Chopin. Hy wil net-net E bereik, en hy sê: "Oeps, ek moet liewer terug gaan en dit weer doen." Dan doen hy dit weer. Nou raak hy opgewonde. (Musiek) Dis opgewondenheid, moenie bekommer nie. Nou kom hy by F-kruis uit en uiteindelik gaan hy af tot by E, maar dis in die verkeerde sleutel -- want die sleutel waarna hy soek is dié een en in plaas daarvan doen hy ... Nou, ons noem dit misleidende intonasie, want dit mislei ons. Ek sê altyd vir my studente: "As julle met misleidende intonasie te doen het lig altyd julle wenkbroue, dan sal almal weet." (Gelag) (Applous) Reg. Hy kom dus by die E uit, maar dis in die verkeerde sleutel. Nou probeer hy weer E. Daardie sleutel werk nie. Nou probeer hy weer die E. Daardie sleutel werk nie. Nou probeer hy weer E, en dit werk nie. En dan, uiteindelik... Daar is 'n man in die voorste ry wat "Mmm" brom. Dit is dieselfde ding wat hy doen wanneer hy na 'n lang dag by die huis kom, sy motor afskakel en sê: "A, ek is tuis." Want ons weet almal waar ons huise is. Dit is dus 'n stuk wat van verlaat af weer tuiskom. Ek gaan dit regdeur speel en julle gaan volg: B, C, B, C, B, C, B -- af na A, af na G, af na F. Amper tot by E, maar dan sal die opvoering verby wees. Hy gaan terug na B. Hy raak baie opgewonde. Gaan na F-kruis, Gaan na E. Dis die verkeerde akkord. Dis die verkeerde akkord.. Dis die verkeerde akkoord. En uiteindelik na E, en dis tuis. En wat julle gaan sien, is 'een boud'-spel. (Gelag) Want vir my, om van die B tot by die E te beweeg, moet ek ophou dink aan elke enkele noot op hierdie roete en begin dink aan die lang, lang pad van B tot E. Julle weet, ons was pas in Suid-Afrika, en jy kan nie na Suid-Afrika gaan sonder om aan Mandela wat 27 jaar lank in die tronk was te dink nie. Waaraan het hy gedink? Middagete? Nee, hy het gedink aan die visie vir Suid-Afrika en 'n visie vir die mensdom. Dis wat behoue gebly het -- dit gaan oor visie; dit gaan oor die lang pad. Soos die voël wat oor die veld vlieg en geen aandag gee aan die heinings daaronder nie, reg? Nou gaan julle die lyn al die pad volg, van B tot E. Ek het een finale versoek voor ek hierdie stuk regdeur speel. Sal jy dink aan iemand wat jy baie liefhet, wat nie meer daar is nie? 'n Geliefde ouma, 'n geliefde, iemand in jou lewe wat jy met jou hele hart liefhet, maar daardie persoon is nie meer by jou nie. Dink aan daardie persoon, en volg terselfdertyd die lyn al die pad van B na E, en jy sal alles hoor wat Chopin te sê gehad het. (Musiek) (Applous) Julle mag dalk nou wonder, julle mag wonder waarom ek saam klap. Wel, ek het dit by 'n skool in Boston gedoen met omtrent 70 graad sewes -- 12-jariges. Ek het presies dieselfde met hulle gedoen, en ek het hulle vertel en die hele ding aan hulle verduidelik. En aan die einde het hulle besete geraak en geklap. Hulle het geklap. Ek het geklap. Hulle het geklap. Totdat ek vra: "Waarom klap ek?" En een van die kleintjies sê: "Want ons het geluister." (Gelag) Dink daaraan. 1,600 mense, besige mense, wat by baie verskillende dinge betrokke is. Besig om te luister, te verstaan en aangeraak te word deur 'n stuk van Chopin. Dit is merkwaardig. Is ek seker dat elkeen dit gevolg en verstaan het en daardeur aangeraak is. Natuurlik kan ek nie seker wees nie. Maar kom ek vertel julle wat met my gebeur het. Ek was 10 jaar gelede, tydens hulle moeilikhede, in Ierland, en ek het met 'n klompie Katolieke en Protestantse kinders gewerk oor konflikoplossing. Toe doen ek dit met hulle. 'n Gewaagde ding, want hulle was straatkinders. En een van hulle kom die volgende oggend na my en hy sê: "Jy weet, ek het nog nooit in my lewe na klassieke musiek geluister nie, maar toe jy daardie "shopping" stuk speel..." (Gelag) Hy sê: "My broer is laasjaar geskiet en ek het nie oor hom gehuil nie. Maar gistraand toe jy daardie stuk speel, was hy die een aan wie ek gedink het. En ek het gevoel hoe trane oor my gesig stroom. En weet jy, dit het regtig goed gevoel om oor my broer te huil." Op daardie oomblik het ek besluit dat klassieke musiek aan almal behoort. Aaan almal. Nou, hoe sou julle loop -- want julle ken almal my professie, die musiekprofessie beskou dit nie so nie. Hulle sê 3 persent van die bevolking hou van klassieke musiek. As ons dit maar net kon opstoot na 4 persent sou ons probleme opgelos wees. Ek sê: "Hoe sou jy loop? Hoe sou jy praat? Hoe sou jy wees as jy gedink het dat 3 persent van die bevolking van klassieke musiek hou? As ons dit maar net kon opstoot na 4 persent. Hoe sou jy geloop het? Hoe sou jy gepraat het? Hoe sou jy wees as jy gedink het dat almal lief is vir klassieke musiek -- hulle het dit nog net nie ontdek nie." (Gelag) Sien, dit is totaal verskillende wêrelde. Ek het 'n wonderlike ervaring gehad toe ek 45 jaar oud was. Ek het toe reeds 20 jaar lank dirigeer, en skielik het ek iets besef. Die dirigent van 'n orkes maak nie 'n geluid nie. My foto verskyn voor op die CD - (Gelag) - maar die dirigent maak nie 'n geluid nie. Vir hom om mag te hê, is hy afhanklik van sy vermoë om ander mense te bemagtig. En dit het alles vir my verander. Dit was 'n totale lewensomkeer. Mense in my orkes het na my toe gekom en gesê: "Ben, wat het gebeur?." Dis wat gebeur het: Ek het besef dat my taak is om moontlikheid in andere te wek. En natuurlik wou ek weet of ek besig was om dit te doen. En weet julle hoe 'n mens dit bepaal? Jy kyk na hulle oë. As hulle oë blink, dan weet jy dat jy daarin slaag. Jy kan 'n dorpie van lig voorsien met hierdie man se oë. (Gelag) Reg. As die oë dus blink, weet jy dat jy slaag. As die oë nie blink nie, moet jy 'n vraag vra. En die vraag is: Wat is ek besig om te wees, dat my spelers se oë nie blink nie? Ons kan dit met ons kinders ook doen. Wie is ek besig om te wees, dat my kinders se oë nie blink nie? Dit is 'n totaal ander wêreld. Nou, ons is amper op die punt om hierdie magiese, op-die-berg week te beëindig, en ons gaan terug na die wêreld. En ek sê dis gepas dat ons die vraag vra: Wie is ons besig om te wees wanneer ons teruggaan na die wêreld toe? En weet julle, ek het 'n definisie van sukses. Dis vir my baie eenvoudig. Dit gaan nie oor rykdom of roem of mag nie. Dit gaan oor hoeveel blink oë ek rondom my het. En nou het ek een laaste gedagte, en dit is dat dit regtig 'n verskil maak wat ons sê. Die woorde wat uit ons mond kom. Ek het dit geleer van 'n vrou wat Auschwitz oorleef het, een van die min oorlewendes. Sy is na Auschwitz toe sy 15-jaar oud was, en haar broer was agt, en hulle ouers was weg. En sy het dit vir my vertel, sy het gesê: "Ons was in die trein op pad na Auschwitz en ek het afgekyk en gesien dat my boetie se skoene weg was. Toe sê ek: "Waarom is jy so simpel, kan jy nie jou goed bymekaar hou nie, om hemelsnaam?" - op die manier wat 'n ouer suster dalk met haar jonger broer sal praat. Ongelukkig was dit die laaste ding wat sy ooit vir hom gesê het want sy het hom nooit weer gesien nie. Hy het nie oorleef nie. Toe sy uit Auschwitz kom, het sy 'n eed geneem. Sy het dit vir my gesê. Sy het gesê: "Ek het uit Auschwitz die lewe ingestap en ek het myself iets belowe. Die belofte was dat ek nooit iets sal sê wat nie aanvaarbaar sal wees as die laaste ding wat ek ooit sê nie." Kan ons dit doen? Nee. Ons sal faal en ander sal faal. Maar dis 'n ideaal om na streef. Dankie. (Applous) Blink oë, blink oë. Dankie, dankie. (Musiek)