Hoe vorm die nuus hoe ons die wêreld sien? Só lyk die wêreld gebaseer op landmassa. En hier's hoe nuus vorm wat Amerikaners sien. Dié kaart -- (Applous) -- wys hoeveel sekondes die Amerikaanse netwerk- en kabelnuus aan nuusstories toegewy het, volgens land, in Februarie 2007 -- net een jaar gelede. Noord-Korea het in dieselfde maand ingestem om hulle kernfasiliteite af te breek. Daar was enorme vloede in Indonesië. En in Parys publiseer die IPCC 'n verslag wat ons impak op aardverwarming bevestig. Die VSA geniet 79 persent van die nuusdekking. En wanneer ons die VSA uithaal, en na die oorblywende 21 persent kyk, sien ons baie Irak -- die groot groen ding -- en min andersins. Dekking van Rusland, China en Indië saam maak slegs een persent uit. Toe ons al die nuus stories ontleed en slegs een storie verwyder het, het die wêreld so gelyk. Wat was die storie? Die afsterwe van Anna Nicole Smith. Dié storie oorskadu elke land behalwe Irak, en het 10 keer meer dekking as die IPCC-verslag ontvang. En die siklus gaan voort; soos ons almal weet is Britney groot nuus. So hoekom hoor ons nie meer oor die wêreld nie? Een rede: die nuusnetwerke het die hoeveelheid oorsese buro's halveer. Behalwe vir een-persoon ABC mini-buro's in Nairobi, Nieu-Delhi en Mumbai, is daar geen ander nuusnetwerkburo's in die hele Afrika, Indië of Suid-Amerika nie -- plekke met meer as twee miljard mense. Die realiteit is dat dit goedkoper is om Britney te dek. Die tekort aan globale dekking is nog meer onrusbarend as ons kyk waarheen mense gaan vir nuus. Plaaslike TV-nuus is groot, en slegs 12 persent van hulle dekking word aan internasionale nuus gewy. En wat van die web? Die gewildste nuustuistes vaar nie veel beter nie. Laas jaar het Pew en die Colombia J-School 14 000 stories ontleed wat op Google News se voorblad verskyn het. En hulle het dieselfde 24 nuus gebeure gedek. Net so het 'n studie van e-inhoud gewys dat baie globale nuus van Amerikaanse nuusverskaffers hergesirkuleerde stories van die AP nuusagentskappe en Reuters is, sonder dat die nuus in konteks geplaas word vir mense om hulle verband daarmee te verstaan. As ons alles saamvoeg kan dit verduidelik waarom universiteitverlaters sowel as minder opgeleide Amerikaners minder weet oor die wêreld as hulle eweknieë van 20 jaar gelede. As jy dink dis omdat ons nie belangstel nie, sal jy verkeerd wees. Amerikaners wat sê dat hulle wêreldnuus meeste van die tyd volg het die laaste paar jaar gegroei tot meer as 50 persent. Die werklike vraag: Is hierdie die verwronge wêreldbeeld wat ons wil hê vir Amerikaners in ons toenemend verbinde wêreld? Ek weet ons kan beter doen. Kan ons bekostig om te misluk? Dankie.