Ek was net 4 jaar oud toe ek my ma ’n wasmasjien sien laai vir die eerste keer in haar lewe. Dit was ’n wonderlike dag vir haar. My ouers het jare lank gespaar om die masjien te kon koop. Op die eerste dag wat ons dit sou gebruik, is selfs Ouma genooi om die masjien te sien. En Ouma was nog meer opgewonde. Regdeur haar lewe het sy water oor die vuur warm gemaak en wasgoed met die hand gewas vir sewe kinders. En nou gaan sy sien hoe elektrisiteit die werk doen. My ma maak die deur versigtig oop en sy laai die wasgoed in die masjien, só... En toe sy die deur toemaak, sê Ouma, "Nee, nee, nee. Laat ek die knoppie druk." En Ouma druk die knoppie en sy sê, "O, fantasties! Ek wil sien! Gee vir my ’n stoel! Ek wil sien!" En sy sit voor die masjien, en sy kyk die hele wasprogram. Sy was betower. Vir my ouma, was die wasmasjien ’n wonderwerk. Vandag, in Swede en ander welaf lande, gebruik mense baie verskillende masjiene. Kyk, die huise is vol masjiene. Ek kan nie eens almal opnoem nie. En ook, wanneer hulle wil reis, gebruik hulle vlieënde masjiene wat hulle na afgeleë bestemmings neem. En tog is daar so baie mense wat steeds hulle water op ’n vuur verhit, en hul kos oor vuur kook. Soms het hulle nie eens genoeg kos nie. En hulle lewe onder die broodlyn. Daar is twee miljard medemense wat op minder as $2 ’n dag leef. En die rykste mense daar -- daar's een miljard mense -- hulle leef bo, wat ek die "luglyn" noem, omdat hulle meer as $80 ’n dag spandeer op hulle verbruik. Maar dis slegs drie miljard mense, terwyl daar sewe miljard mense in die wêreld is, so daar moet vier miljard mense wees, wat tussen armoede en die luglyn leef. Hulle het elektrisiteit, maar die vraag is: Hoeveel het wasmasjiene? Ek't die data ondersoek, en gevind, inderdaad, dat die wasmasjien tot onder die luglyn deurgedring het, en vandag is daar ’n addisionele een miljard mense wat bo die "wasgoedlyn" leef. (Gelag) Hulle verbruik meer as $40 per dag. So twee miljard het toegang tot wasmasjiene. En die oorblywende vyf miljard, hoe was hulle? Of, meer presies, hoe was die meeste vroue in die wêreld? Want dit bly harde werk vir vroue om te was. Hulle was só: met die hand. Dis ’n harde, tydrowende arbeid, wat hulle vir ure elke week moet doen. En soms moet hulle ook water van vêr af bring om tuis te was, of hulle moet die wasgoed na ’n stroompie vêr weg vat. En hulle wil ’n wasmasjien hê. Hulle wil nie so baie van hulle lewe spandeer om harde werk te doen wat relatiewe lae produktiwiteit het nie. En daar's niks anders aan hulle wens as die van my ouma nie. Kyk, twee generasies terug in Swede -- skep water by die stroom, op die vuur verhit en was soos dit. Hulle wil die wasmasjien hê op presies dieselfde manier. Maar wanneer ek ’n lesing aanbied vir omgewingbewuste studente sê hulle: "Nie almal in die wêreld kan karre en wasmasjiene hê nie." Hoe kan ons dié vrou vertel dat sy nie ’n wasmasjien gaan hê nie? En dan vra ek my studente, oor die laaste twee jaar: "Hoeveel van julle gebruik nie ’n kar nie?" En somige steek hulle hande trots op en sê, "Ek gebruik nie ’n kar nie." En dan vra ek die regtig moeilike vraag: "Hoeveel van julle was julle jeans en beddegoed per hand?" En niemand steek hulle hand op nie. Selfs die gehardes in die groenbeweging gebruik wasmasjiene. (Gelag) So hoekom gebruik almal dit en hulle dink ander sal dit nie stop nie? Wat is so spesiaal? Ek moes ’n analise doen oor energieverbruik in die wêreld. Hier. Julle sien die sewe miljard mense bo: die lugmense, die wasmense, die gloeilampmense en die vuurmense. Een eenheid soos dié is ’n fossielbrandstof-eenheid: olie, steenkool of gas. Dis meeste van die elektrisiteit en energie in die wêreld. Dis 12 eenhede verbruik in die hele wêreld, en die rykste een miljard gebruik ses daarvan. Helfte van die energie word verbruik deur ’n sewende van die bevolking. En dié wat wasmasjiene het, maar nie ’n huis vol ander masjiene nie, hulle gebruik twee. Hierdie groep gebruik drie, een elk. Hulle't ook elektrisiteit. Daar gebruik hulle nie eens een elk nie. Dit maak 12 van hulle. Maar die hoof bekommernis vir die omgewing-belangstellende studente -- en hulle is reg -- is oor die toekoms. Wat is die tendense? As hulle net verleng, sonder enige gevorderde analise, tot 2050, is daar twee dinge wat energieverbruik kan verhoog. Eerste, bevolkingsgroei. Tweede, ekonomiese groei. Bevolkingsgroei sal hoofsaaklik onder die armste mense plaasvind, want hulle ervaar hoë kindersterftes en hulle het baie kinders per vrou. Met dit kom twee ekstra, maar energieverbruik sal nie baie verander nie. Wat sal gebeur is ekonomiese groei. Die mees welaf hier in die opkomende ekonomieë -- ek noem hulle die Nuwe Ooste -- hulle sal oor die luglyn spring. "Whap!" sê hulle. En hulle sal begin om so baie te gebruik soos die Ou Weste reeds gebruik. En dié mense, hulle wil ’n wasmasjien hê. Soos ek gesê het: daar gaan hulle. Hulle energieverbruik sal verdubbel. En ons hoop dat die arm mense elektriese lig sal kry. Hulle kry twee-kind-families sonder ’n stop in bevolkingsgroei. Maar die totale energieverbruik sal verhoog tot 22 eenhede. En dié 22 eenhede -- steeds gebruik die rykstes die meeste. So wat moet gedoen word? Omdat die risiko, die hoë waarskynlikheid van klimaatsverandering, ’n werklikheid is. Natuurlik moet hulle meer energiedoeltreffend wees. Hulle moet gedrag verander op ’n manier. Hulle moet ook begin groen energie produseer, baie meer groen energie. Maar tot hulle dieselfde energieverbruik per persoon het, moet hulle nie raad gee aan ander -- wat om te doen of nie te doen nie. (Applous) Hier kan ons meer groen energie kry van orals. Dis wat ons hoop mag gebeur. Dis ’n werklike toekomsuitdaging. Maar ek verseker julle dat hierdie vrou in die favela in Rio: sy wil ’n wasmasjien hê. Sy's baie gelukkig met haar minister van energie wat elektrisiteit vir almal verskaf het -- so gelukkig dat sy vir haar gestem het. En sy word Dilma Rousseff, die pas gekose president van een van die grootste demokrasieë in die wêreld -- van minister van energie tot president. As jy ’n demokrasie het, sal mense stem vir wasmasjiene. Hulle's mal oor hulle. En wat is die wonder hiervan? My ma't die wonder van die masjien verduidelik die heel, heel eerste dag. Sy't gesê, "Nou Hans, ons het die wasgoed gelaai. Die masjien sal die werk doen. En nou kan ons biblioteek toe gaan." Want dis die wonder: jy doen die wasgoed, en wat kry jy uit die masjien? Jy kry boeke uit die masjien, kinderboeke. My ma't tyd gehad om vir my te lees. Sy was mal daaroor. Ek kry die "ABC's." Dis waar my beroep as professor begin het, toe my ma tyd gehad het om vir my te lees. Sy't ook boeke vir haarself gekry. Sy't dit reggekry om Engels te studeer en dit te leer as ’n vreemde taal. En sy lees soveel romans, so baie verskillendes. En ons hou baie, baie van die masjien. En wat my ma en ek gesê het, is: "Dankie, industrialisasie. Dankie, staalplettery. Dankie, kragstasie. En dankie, chemiese industrie wat ons tyd gegee het om boeke te lees." Baie dankie. (Applous)