Net na Kersfees verlede jaar het 132 kinders in Kalifornië masels gekry deur Disneyland te besoek of blootgestel te word aan iemand wat daar was. Die virus het toe die Kanadese grens oorgesteek en meer as 100 kinders in Quebec is aangesteek. Een van die tragiese dinge van hierdie uitbraak is dat masels, wat dodelik kan wees vir 'n kind met 'n verswakte immuunstelsel, een van die maklikste voorkombare siektes in die wêreld is. 'n Effektiewe entstof is al meer as 'n halfeeu beskikbaar, maar baie kinders wat deur die Disneyland-uitbraak geraak is, was nie ingeënt nie, omdat hulle ouers bang was vir iets wat na bewering erger kan wees: outisme. Maar wag 'n bietjie -- is die artikel wat die kontroversie oor outisme en entstowwe uitgelok het nie vals bewys, teruggetrek en as opsetlike bedrog uitgemaak deur die British Medical Journal nie? Weet die meeste wat wetenskap volg nie dat die teorie oor inenting en outisme nonsens is nie? Ek dink meeste van julle weet, maar miljoene ouers regoor die wêreld vrees steeds dat inentings 'n risiko van outisme vir hulle kinders inhou. Waarom? Dis waarom. Dié grafiek wys die toename in die geskatte outisme voorkomssyfer oor tyd. Vir die grootste deel van die 20ste eeu is outisme beskou as 'n baie seldsame toestand. Die handvol sielkundiges en pediaters wat al daarvan gehoor het, het gereken dat hulle hul loopbane sou voltooi sonder om 'n enkele geval teë te kom. Beramings van die voorkomssyfer het vir dekades stabiel gebly op net drie of vier kinders uit 10 000. Maar toe, in die 1990's, het die syfers die hoogte ingeskiet. Fondsinsamelingsorganisasies soos Autism Speaks verwys gereeld na outisme as 'n epidemie -- asof jy dit by 'n ander kind by Disneyland kon kry. So wat gaan aan? As dit nie entstowwe is nie, wat is dit? As jy die mense by die Centers for Disease Control in Atlanta vra, maak hulle staat op frases soos "breër diagnostiese kriteria" en "beter aantekening van gevalle" om die stygende getalle te verklaar. Maar hierdie soort woorde doen min om 'n jong ma gerus te stel terwyl sy haar tweejarige se gesig vir oogkontak bestudeer. As dit nodig was om die diagnostiese kriteria te verbreed, waarom was dit in die eerste plek so eng? Waarom was dit so moeilik om outismegevalle te vind voor die 1990's? Ek het vyf jaar gelede besluit om die antwoorde op hierdie vrae te ontbloot. Ek het agtergekom dat dít wat gebeur het minder met trae en versigtige vooruitgang in wetenskap te doen het as met die verloklike krag van stories. Vir die grootste deel van die 20ste eeu het klinici één storie vertel oor wat outisme is en hoe dit ontdek is, maar daardie storie was toe verkeerd. Die nagevolge hiervan het wêreldwyd 'n vernietigende uitwerking op openbare gesondheid. Daar was 'n tweede, akkurater storie van outisme wat verlore en vergete geraak het in die duister hoekies van kliniese literatuur. Dié tweede storie vertel ons alles oor hoe ons hier gekom het en waarheen ons volgende moet gaan. Eerste het ons 'n kinderpsigiater by Johns Hopkins-Hospitaal, Leo Kanner. Kanner het in 1943 'n artikel gepubliseer waarin hy 11 jong pasiënte beskryf wat gelyk het of hulle in hulle eie wêrelde leef en diegene om hulle, selfs hul eie ouers, ignoreer. Hulle kon hulself vir ure vermaak deur hulle hande voor hulle gesigte te waai, maar klein dingetjies het hulle ontstel, soos 'n gunstelingspeelding wat uit sy gewone plek geskuif is sonder hulle medewete. Gebaseer op die pasiënte wat na Kanner toe gebring is, het hy uitgereken dat outisme baie skaars is. Teen die 1950's het hy, as die wêreld se grootste kenner op dié gebied, verklaar dat hy minder as 150 ware gevalle van hierdie sindroom gesien het, terwyl hy verwysings van plekke so ver as Suid-Afrika hanteer het. Dis nie so verbasend nie, want Kanner se kriteria vir die diagnosering van outisme was ongelooflik selektief. Hy het dit bv. ontmoedig om kinders te diagnoseer wat aanvalle gekry het, maar nou weet ons dat epilepsie algemeen voorkom by outistiese pasiënte. Hy het een keer gespog dat hy nege uit tien kinders wat deur ander klinici as outistiese gevalle na hom verwys is, weggestuur het sonder 'n outismediagnose. Kanner was 'n slim man, maar van sy teorieë het nie sin gemaak nie. Hy het outisme as 'n vorm van kinderpsigose geklassifiseer wat deur koue en liefdelose ouers veroorsaak word. "Hierdie kinders," het hy gesê, "is in 'n yskas grootgemaak wat nooit ontvries nie." Terselftertyd het Kanner egter waargeneem dat sommige van sy jong pasiënte spesiale vaardighede gehad het wat op sekere gebiede voorgekom het, soos musiek, wiskunde en geheue. Een seuntjie in sy kliniek kon 18 verskillende simfonieë onderskei voor hy twee was. As sy ma een van sy gunsteling-opnames gespeel het, sou hy korrek uitroep: "Beethoven!" Maar Kanner het nie belanggestel in hierdie talente nie en het gemeen dat die kinders bloot herhaal het wat hulle by hulle aanstellerige ouers gehoor het -- desperaat vir dié se goedkeuring. Gevolglik het outisme 'n bron van verleentheid en stigma geword en twee generasies outistiese kinders is weggestuur na inrigtings, vir hulle eie beswil. Sodoende het hulle onsigbaar geword vir die meeste mense. Glo dit of nie, navorsers het eers in die 1970's begin om Kanner se teorie dat outisme skaars is, te toets. Lorna Wing was 'n kognitiewe sielkundige in Londen wat gedink het Kanner se teorie oor yskasouerskap "loutere onsin" is, soos sy vir my gesê het. Sy en haar man John was warm en liefdevolle mense en hulle dogter Susie was erg outisties. Lorna en John het geweet hoe moeilik dit was om 'n kind soos Susie groot te maak sonder ondersteuningsdienste, spesiale onderrig, en die ander hulpbronne wat buite bereik is sonder 'n diagnose. Om hulle saak by die National Health Service te stel, dat meer hulpbronne nodig was vir outistiese kinders en hulle gesinne, het Lorna en haar kollega Judith Gould besluit om te doen wat 30 jaar tevore nodig was: 'n studie oor die voorkoms van outisme onder die algemene bevolking. Hulle het die strate van Camberwell, 'n Londense voorstad, deurkruis om outistiese kinders in die gemeenskap op te spoor. Wat hulle gesien het, het Kanner se model as veels te eng bewys en dat outisme in werklikheid baie meer kleurvol en divers was. Sommige kinders kon glad nie praat nie, terwyl ander aangegaan het oor hulle aangetrokkenheid tot astrofisika, dinosourusse of koninklikes se stambome. Hierdie kinders het nie in netjiese bokse ingepas nie, soos Judith dit gestel het. En hulle het baie gesien: baie meer as wat Kanner se monolitiese model voorspel het. Aanvanklik het hulle nie geweet hoe om die data te interpreteer nie. Hoe het niemand ooit dié kinders gesien nie? Maar toe kom Lorna af op 'n verwysing na 'n artikel wat in 1944 in Duits gepubliseer is -- die jaar na Kanner se artikel -- en toe vergeet en begrawe is saam met die bomskerwe van 'n vreeslike tyd wat niemand wou onthou of aan dink nie. Kanner het geweet van dié mededingende artikel, maar het dit versigtig vermy in sy eie werk. Dis nooit eers in Engels vertaal nie, maar gelukkig het Lorna se man Duits gepraat en hy het dit vir haar vertaal. Die artikel het 'n ander storie oor outisme gebied. Die outeur was Hans Asperger, wat 'n gekombineerde kliniek en kosskool in Wene in die 1930's bedryf het. Asperger se idees oor die onderrig van kinders met leerverskille was progressief, selfs gemeet teen hedendaagse standaarde. Die oggende by sy kliniek het begin met oefenklasse met musiek, en op Sondaemiddae het die kinders konsert gehou. In plaas daarvan om ouers die skuld vir outisme te gee, het Asperger dit as 'n lewenslange, poligenetiese gestremdheid beskryf wat deernisvolle vorms van ondersteuning en aanpassing oor 'n persoon se hele lewe vereis. Eerder as om die kinders as pasiënte te behandel, het Asperger hulle sy "klein professors" genoem en hulle hulp gevra om onderrigmetodes te ontwikkel wat besonderlik vir hulle geskik was. Die belangrikste is dat Asperger outisme as 'n diverse kontinuum beskou het wat oor 'n ongelooflike spektrum van begaafdheid en gestremdheid strek. Hy het geglo dat outisme en outistiese karaktertrekke algemeen is en nog altyd was, met aspekte daarvan wat gesien word in bekende popkultuur argetipes, soos die sosiaal onbeholpe wetenskaplike en die verstrooide professor. Hy het so ver gegaan om te sê dat om suksesvol in wetenskap en die kunste te wees 'n tikkie outisme vereis. Lorna en Judith het besef dat Kanner net so verkeerd was oor die raarheid van outisme as oor dat ouers dit veroorsaak het. Oor die volgende jare het hulle saam met die American Psychiatric Association gewerk om die kriteria vir diagnose te verbreed om die diversiteit van die "outismespektrum" te weerspieël. In die laat 1980's en vroeë 90's is hulle veranderinge in werking gestel: Kanner se eng model is vervang met Asperger se breë en inklusiewe een. Dié veranderinge het nie afgesonderd plaasgevind nie. Toevallig, soos Lorna en Judith agter die skerms aan die werk was om die kriteria aan te pas, het die wêreld die eerste keer 'n outistiese grootmens gesien. Voor "Rain Man" in 1988 uitgekom het, het net 'n klein, geslote groepie kundiges geweet hoe outisme lyk, maar na Dustin Hoffman se onvergeetlike optrede as Raymond Babbitt vier Oscars vir "Rain Man" ingepalm het, het pediaters, sielkundiges, onderwysers en ouers wêreldwyd geweet hoe outisme lyk. En op dieselfde tyd is die eerste maklike kliniese toetse vir die diagnose van outisme bekendgestel. Dit was nie meer nodig om iemand in die kringetjie kundiges te ken om jou kind te laat evalueer nie. Die kombinasie van "Rain Man", die veranderinge aan die kriteria en die ingebruikneming van hierdie toetse het 'n netwerk-effek geskep -- die perfekte kombinasie van faktore vir outisme-bewusmaking. Die aantal diagnoses het begin klim, net soos Lorna en Judith voorspel het en gehoop het dit sou, wat outistiese mense en hulle gesinne in staat gestel het om eindelik die ondersteuning en dienste te kry wat hulle verdien. Toe kom Andrew Wakefield en blameer entstowwe vir die styging in diagnoses -- 'n eenvoudige, kragtige, en verleidelik geloofbare storie wat net so verkeerd was soos Kanner se teorie dat outisme skaars was. As die Centers for Disease Control se huidige skatting, dat een uit 68 kinders in Amerika op die spektrum is, korrek is, is outistiese mense een van die grootste minderheidsgroepe in die wêreld. Outistiese mense het in die laaste jare bymekaargekom op die internet om die idee te verwerp dat hulle raaisels is wat opgelos moet word deur die volgende mediese deurbraak, en hulle het die term "neurodiversiteit" geskep om hulle trots oor die veelsydigheid van menslike kognisie te toon. 'n Manier om neurodiversiteit te verstaan, is om in terme van menslike bedryfstelsels te dink. As 'n rekenaar nie met Windows loop nie, is dit nie noodwendig stukkend nie. Volgens outistiese standaarde, is die normale menslike brein maklik afleibaar, obsessief oor sosiale aspekte en skiet dit tekort by aandag aan klein besonderhede. Dis moeilik vir outistiese mense om in 'n wêreld te leef wat nie vir hulle gemaak is nie. [Sewentig] jaar later probeer ons steeds vir Asperger inhaal, wat geglo het dat die "genesing" vir die moeilikste aspekte van outisme gevind kan word in onderwysers met begrip, toegeeflike werkgewers, ondersteunende gemeenskappe en ouers wat glo in hulle kinders se potensiaal. 'n Outistiese [man], Zosia Zaks, het gesê: "Ons het almal aan dek nodig om die skip van medemenslikheid op koers te hou." Soos ons 'n onseker toekoms invaar, het ons elke vorm van menslike intelligensie nodig om saam te werk om die probleme op te los wat ons samelewing in die gesig staar. Ons kan nie bekostig om 'n brein te mors nie. Dankie. (Applous)