Ek's Jessi en dis my tas. Maar voor ek julle wys wat binne-in is, moet ek eers bieg. Julle sien, ek is versot op klere. Ek is mal oor vind en dra, en deesdae neem ek ook foto's van en blog oor ’n kleurvolle, maltrap uitrusting vir elke geleentheid. Maar ek koop niks nuut nie. Ek koop al my klere tweedehands, by vlooimarkte en afslagwinkels. Ag, baie dankie. Om tweedehandse klere te koop help om die impak wat my klerekas op die omgewing en op my beursie het, te verminder. Ek ontmoet allerhande fantastiese mense; my geld ondersteun meestal ’n goeie doel; ek lyk beslis uniek; en inkopies-doen is soos my persoonlike skattejag. Ek bedoel, wat gaan ek vandag vind? Gaan dit my pas? Sal ek van die kleur hou? Sal dit minder as $20 wees? As al die antwoorde ja is, voel dit asof ek gewen het. Maar ek wil nou vir julle vertel wat ek in my tas gepak het om vir ’n week na TED te kom. Wat bring iemand met so baie uitrustings saam? Ek sal julle presies wys. Ek het sewe pare broekies gebring en dis al. Net genoeg onderklere vir een week is al wat ek in my tas gebring het. Ek't gedink dat ek enigiets anders wat ek miskien wil dra hier in Palm Springs sal kan kry. Aangesien ek nie hier by TED in my onderklere rondloop nie -- (Gelag) beteken dit ek't ’n paar goed gekry. So ek wil julle graag wys my week se uitrustings lyk. Hoe klink dit? (Applous) So terwyl ek dit doen gaan ek julle ’n paar lewenslesse vertel wat ek geleer het, glo dit of nie, te midde van hierdie niks-nuut-dra avonture. Kom ons begin by Sondag. Ek noem dit 'Blink Tier.' Jy hoef nie baie te spandeer om goed te lyk nie. Dis amper altyd moontlik om vir minder as $50 asemrowend te lyk. Hierdie uitrusting, met die baadjie, het my $55 gekos. En dit was die duurste item vir die week. Maandag: Kleur het krag. Dis net eenvoudig nie moontlik om in ’n slegte bui te wees wanneer jy ’n helderrooi broek dra nie. (Gelag) ’n Gelukkige luim trek ander gelukkige mense na jou. Dinsdag: Om in te pas is overrated. Ek't my hele lewe lank probeer om myself te wees en terselfde tyd in te pas. Wees net jouself. Die regte mense sal dit nie net aanvaar nie, hulle sal dit ook waardeer. Woensdag: Probeer om jou innerlike kind te aanvaar. Mense vertel my partykeer dat dit lyk of ek vir ’n tema aantrek of dat ek hulle aan hul sewe-jarige herinner. Dan glimlag ek en bedank hulle. Donderdag: Selfvertroue is deurslaggewend. As jy dink jy lyk goed in iets, dan is die kanse goed daarvoor. As jy dink jy lyk nie goed in iets nie, is die kanse goed dat jy reg is. My ma het dit elke dag benadruk. Eers na my dertigste verjaarsdag het ek regtig verstaan wat dit beteken. Laat ek gou vir julle vertel hoe dit werk. As jy dink jy's ’n mooi persoon, binne en buite, dan sal jy goed lyk en voel in enige uitrusting. Niemand hier het ’n verskoning nie. Ons almal behoort te kan dra net wat ons wil. Dankie. (Applous) Vrydag: ’n Universele waarheid in vyf woorde: Goue blinkers pas by alles. Eindelik, Saterdag. ’n Unieke persoonlike styl is die beste manier om jouself woordeloos aan die die wêreld te bemark. Dis herhaaldelik aan my bewys toe mense my hierdie week genader het bloot op grond van my uitrusting. En ons't lekker gesels. Ek sal nie alles wat ek gekoop het in my tas kan pas nie. So voordat ek teruggaan Brooklyn toe, gaan ek alles terug skenk. Die les wat ek myself hierdie week probeer leer is dat dit oukei is om dinge te laat gaan. Ek hoef nie te geheg aan die goed te raak nie: iewers om die draai sal daar altyd nog ’n kleurvolle, maltrap blink uitrusting wees wat net vir my wag, as ek net met ’n bietjie liefde in my hart daarvoor soek. Baie dankie. (Applous) Baie dankie. (Applous)